Saggies met Jou Oordeel, Maat
Oordeel nie kras as iemand hink
of struikel in sy pas,
tensy jy in sy skoene was
of weet hoe swaar sy las.
Hy kan in spykers trap, of loop
met stewels wat hom druk;
of as sy las op jou sou val,
gaan jy dalk self gebuk.
Verag hom nie wat nou bly lê
as jy nie self die hou
wat hom gevel het, ondervind
of weet hoe hy voel nou.
Jy is wel sterk, maar as sy
slae
op jou moet val, ou maat,
op dáárdie wyse en dié tyd,
kon dit jou kragteloos laat.
Wees op die sondaar nie te kras,
moet hom nie hard kasty
tensy jy weet, ja, seker is,
Jy's self van sonde vry.
Wie weet, as die verleier jou
so stroopsoet sou aanspreek,
soos hy wat ook voor hom moes swig,
Is jy nie ook te week?
Digter onbekend